Eboekformate

eleser-strandDaar is oënskynlik ‘n swetterjoel eboekformate, maar die vernaamste twee mededingende tipes is Kindle van Amazon en Epub van Adobe. ‘n Epub kan nie op ‘n Kindle gelees word nie en andersom.

Klub digiTAAL is egter hier om dit alles vir u maklik te maak en daarom kan u te eniger tyd met ons in verbinding tree via die kontakvorm op dié webblad vir bystand of stuur ‘n epos aan inlig[by]digitaal.org.za. Ons kan u byvoorbeeld help om u Kindle in te stel sodat u direk en kosteloos eboeke vanaf ons biblioteek daarop kan ontvang deur van die free.kindle.com-verbinding gebruik te maak.

Formate en toestelle

As u ‘n nuweling is wat eboeke tref en bloot boeke op u rekenaar wil lees, beveel ons die veeldoelige gratis programmetjie SumatraPDF aan. Daarmee kan u alle formate eboeke lees, soos PDF, Kindle en Epub. Laai dit gerus hier af en installeer dit op u rekenaar.

As u van plan is om ‘n eleser of tablet aan te skaf, kyk gerus na die verskillende modelle van Prestigio elders op die blad. Ons beveel dit aan, aangesien dit funksioneel en goeie waarde vir geld verteenwoordig. Met tegnologie wat so vinnig verander, is dit nie die moeite werd om hoë pryse vir handelsmerke te betaal nie.

Kindle-formaat, oftewel AZW en MOBI

Amazon.com, vervaardigers van die Kindle, verkoop eboeke in die AZW-formaat, maar MOBI is ook daarop leesbaar. MOBI is deur die Franse maatskappy Mobipocket ontwikkel, wat agterna deur Amazon oorgeneem is. Ander formate wat op ‘n Kindle-toestel leesbaar is, is TXT (gewone teks) en PDF.

Let wel: Eboeke wat algemeen in Afrikaans en in Suid-Afrika deur o.a. Kalahari.com verkoop word, is Epubs en kan nie op die Kindle gelees word nie. Op Klub digiTAAL en Papyyrus.com vind u egter albei formate en ons kan ook die een na die ander omskakel.

U kan ook die Kindle for PC-program op u rekenaar gebruik deur dit gratis by Amazon.com af te laai, maar daarvoor word ‘n rekening by Amazon.com vereis, wat soms omslagtig kan wees. Die Kindle-toep (“app” in Engels) kan insgelyks op ‘n Ipad of Android-tablet soos die Prestigio, Samsung Galaxy of ‘n verskeidenheid slimfone gebruik word.

Epub-formaat

Epub is die meer universele eboekformaat wat deur alle uitgewers en eboekhandelaars, soos byvoorbeeld Kalahari.com, Barnes & Noble en ander aangehang word. Gewoonlik kom sowel Ipad- as Android-tablette en alle elesers met ‘n reeds geïnstalleerde program om Epubs mee te lees. Dus is hierdie die makliker roete om te volg. Daar is ook ‘n groot aantal gratis Engelse boeke in Epub-formaat op die internet beskikbaar.

 

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *