‘Die amigdala van Alrina Smal’ deur Gustav Venter

amigdala_alrinasmal_voorblad

Beskikbaar in die ebiblioteek vir klublede of om te koop.

Alrina Smal is ‘n liberale, welgestelde vrou wat in Northcliff, Johannesburg woon. As sy deur ‘n swartman in haar eie huis aangerand word, ontwikkel sy ‘n fobie jeens alle swartmense wat haar man en diegene rondom haar al moeiliker vind om te hanteer.

Sy word deur die briljante, byderwetse doktor Ters van Jaarsveld behandel, maar niks kan haar van haar vrees vir swartmense genees nie. Intense kursusse in gevegskuns en pistoolskiet stel haar ook nie gerus nie.

Gustav Venter het reeds as joernalis en rubriekskrywer in Afrikaans bekendheid verwerf. In hierdie, sy debuutroman, lewer hy ‘n meesterlike en boeiende verhaal wat geen doekies omdraai oor die abnormale geweld, veral teen vroue, wat in Suid-Afrika tier nie.

Deur haar terapiesessies vir haar “negrofobie”, soos dit ook iewers in die boek genoem word, leer ons Alrina se verhaal ken. Die dialoog tussen haar en doktor Ters is oortuigend, soms tegnies sielkundig, maar plek-plek ook kostelik, sodat die leser al hoe verder meegesleur word deur Alrina se pogings om haar vrees te oorwin.

Hoewel die enkele geweldstonele in die boek smaakvol en literêr geskilder word, is dit veral die dialoog wat by tye alle polities korrekte norme oorboord gooi. Die skrywer gee enkele rassistiese karakters vrye teuels om hul menings uit te spreek soos ‘n mens in ‘n etnies verdeelde en geweldgeteisterde Suid-Afrika kan verwag. Dis ‘n boek wat vele na hul asems gaan laat snak, ook die leser wie se simpatie met Alrina se dilemma hom kwalik op die skokkende einde van die verhaal voorberei.

Reeds kan ‘n mens sê dat hierdie roman ‘n nuwe tydvak in die Afrikaanse letterkunde inlui. Wat by sommige skrywers voorheen vae suggestie was, word deur Gustav Venter tot onverskrokke realisme opgetower.

As u vanjaar een Afrikaanse boek lees, moet dit Die amigdala van Alrina Smal wees!

Laai ‘n gratis uittreksel van 24 bladsye in PDF-formaat hier af.